“AAAARRRRGGGG!” Klink Essie se skril stem deur Wanda se kamer.
“Kry dit weg, kry dit weg!” Met een groot sprong is sy bo-op Wanda se lessenaar. Sy trippel histeries tussen die klomp oop boeke rond. Wanda buk en tel die klein wit muisie versigtig van die vloer af op. “Kalmeer Essie, dit is net ʼn muis. Hy is skadeloos.” Essie klim huiwerig van die lessenaar af, maar bly steeds so ver moontlik van Wanda en die muis af weg. Sy het vanoggend ekstra vroeg opgestaan om haarself aan die nuwe bure te kom voorstel. Die laaste ding wat sy verwag het, was ʼn muis wat haar tegemoed hardloop toe Wanda haar by haar kamer innooi. “Sy naam is Kaptein Knibbel, maar jy kan hom sommer net Knibbels noem.” Die muis sit nou op Wanda se skouer en knibbel aan ʼn stukkie kaas wat sy uit haar sak uitgehaal het. |
Die twee stap giggelend en geselsend in die straat af. By die meer is daar ʼn nou stofpaadjie wat lei na ʼn pragtige piekniekarea. Terwyl hulle nog doodluiters op die paadjie stap, kom daar skielik ʼn seun op ʼn fiets van voor af aangejaag. Hy pyl reguit op Wanda af. “Pas op Wanda!” roep Essie, maar Wanda reageer te stadig. Die fiets tref haar met ʼn harde slag en sy en die seun rol teen die sypaadjie af. Essie hardloop nader. “Bennie! Kan jy nie kyk waar jy ry nie?” Sy help vir Wanda op en vee vies ʼn stofmerk waar die fiets by haar verby geskuur het van haar rok af. |
“Ag foeitog, hy het seker op die houtjie geklim langs die wal en toe dryf dit weg.” Essie sit haar hand op Wanda se skouer.
“Wel ons moet hom gaan red!” roep Wanda uit. “Ja! Ons kan sommer bietjie swem ook!” Bennie laat hom nie tweekeer nooi nie. Hy los sy fiets net daar en plons in die water. Essie vou haar arms. “Gaan julle maar, ek wil nie my nuwe rok vuil maak nie.” Wanda lig haar wenkbroue en kyk skepties na die groot stofkol op Essie se rok. Essie sug. “Nou goed, ek kom.” Net toe hulle al drie in die water is, steek daar skielik ʼn wind op. Die water maal en draai om hulle rond. Die stuk dryfhout met Kaptein Knibbels op is skoonveld. Wanda probeer na die wal swem, maar die stroom is te sterk. ʼn Draaikolk vorm in die middel van die meer en sleur die skoppende en skreeuende kinders mee. “Essie! Bennie!” roep Wanda benoud, maar dis te vergeefs. Al antwoord wat sy kry is ʼn mond vol water. ʼn Groot golf water spoel oor haar kop en skielik is alles pikswart. |
Die kasteel is enorm. Wanda, Essie en Bennie voel soos miertjies teen die kasteel se vier groot torings. Die ingang van die kasteel toring hoog bo hulle koppe uit en is versier met hordes klein skulpies en seewier. Daar is niks rondom die kasteel behalwe kilometers sand nie.
“Ek het nie eers geweet die meer is so diep nie!” roep Wanda verwonderd en begin aan die deur trek. “Wanda… miskien moet ons nie in…” Bennie maak nie sy sin klaar nie, want Wanda en Essie het alreeds die groot deure oopgestoot. Die drie kinders staar verstom voor hulle uit. Binne die kasteel is ʼn hele ander wêreld! Oral om hulle is groot, kleurvolle korale, rotse versier met blou, geel en helder pienk skulpies en visse van allerlei groottes en vorms wat in groepe om hulle rond swem. “Waar is die kasteel se mure heen?” vra Essie in vervoering. Wanda begin stadig vorentoe swem na die reusagtige meermin-standbeeld wat in die middel van die rotse en korale staan. Die standbeeld is so groot, Wanda is seker sy kan binne-in die punt van die meermin-stert inpas. Bennie en Essie swem ook nader. |
|
“Dit is ʼn manjifieke werk, is dit nie?” hoor hulle skielik ʼn stem agter hulle.
Wanda, Essie en Bennie wip soos hulle skrik en draai om. Vir ʼn oomblik is hulle al drie sprakeloos. Dis ʼn meermin! ʼn Regte, egte meermin! Die meermin glimlag vriendelik. Haar pers stert blink effens en swiep liggies heen en weer in die water. Haar dik, rooi-bruin hare staan soos ʼn wolk om haar kop. “E... e...” probeer Bennie, maar hy kry nie ʼn woord uit nie. “Kom gou!” roep sy dringend en begin wegswem. Hulle hang vir ʼn oomblik verward in die water en dan begin Wanda agter die meermin aan spartel. Bennie en Essie volg kort op haar hakke. Die meermin swem gans te vinnig vir hulle en voor hulle hulle kan kry is sy weer weg. |
Skielik skuif daar ʼn groot skadu oor hulle. Wanda kyk op en haar oë rek. Bo hulle swem ʼn tamaai rooi seekat. Sy geel oë blits boosaardig en hy strek een van sy tentakels uit in Bennie se rigting. Essie gil kliphard. Wanda probeer na Bennie se hand gryp, maar die seekat stamp haar weg met een van sy hordes tentakels.
“Los my uit jou bol slym! Seekatte hoort nie eens is ʼn meer nie!” gil Bennie benoud terwyl die seekat met hom wegswem. Wanda en Essie swem agterna, maar dit is te vergeefs. Hulle kan nie byhou nie. “Wat gaan ons doen? Die liederlike ding gaan vir Bennie opvreet!” Essie swem verbouereerd in die rondte. “Wat gaan ons vir sy ma sê? Dis nou as die ding nie terugkom vir nagereg nie! Die seekat kan my nie opeet nie… dis ʼn nuwe rok hierdie!” |
|
Twee swaardvisse bewaar die ingang van die grot. Hulle swem heen en weer voor die groot opening. Elke keer as hulle omdraai en verby mekaar moet swem, steek die een die ander een met die punt van sy lang swaard-neus.
“Hou regs!” roep die een vies. “Ek dag dis links” skree die ander een. “Nee, regs is die anderkant” “Ek bedoel ek dag ek moet links hou…” Hulle stry so dat hulle nie sien hoe Wanda en die ander vinnig agter die hoop rotse regs van hulle induik nie. “Hoe gaan ons verby die swaardvisse kom?” fluister Essie bang. “Ek het ʼn idee” sê Wanda en swem agter die rotse uit. “Wanda, wees versigtig!” probeer die meermin keer. Wanda swem tot reg voor die swaardvisse. Hulle hou skielik op stry en draai na Wanda. |
|
Die twee swaardvisse begin ywerig in die rondte tol. Hulle klap entoesiasties hul vinne en skiet dan in ʼn rigting in. Die een skiet skoon in die verkeerde rigting, maar dit is wat Wanda verwag het. Hulle swem met ongelooflike spoed – reguit in die twee rotstorings aan weerskante van die ingang vas. En daar sit hulle met hulle swaard-neuse in die rotse vas!
“Help!” roep hulle benoud, maar die ander het alreeds by Wanda aangesluit en hulle swem by die grot in. “Uitstekende werk!” roep die meermin toe hulle binne is. Die grot is baie donker. Plek-plek skyn ʼn ligstraaltjie deur ʼn opening in die dak. Dit maak net genoeg lig sodat ʼn mens kan sien wat om jou aangaan. |
Kloemps!
ʼn Klip tref die seekat skielik teen sy kop. En toe nog een, en nog een! Klippe reën nou op die seekat neer. Wanda kyk verbaas by die seekat verby. Essie en Bennie en al die meerminne vorm ʼn halfmaan om die seekat met hande vol klippe. Hulle moes uit die pot uit geklim het en die meerminne gaan bevry het terwyl die seekat nie gekyk het nie! Die seekat flap sy tentakels woes om hom rond, maar hy kry nie die klippe afgeweer nie. Hy trek met ʼn woeste vaart weg en verdwyn in die gangetjie af. |
|